Die Jan H Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans word in 2024 toegeken aan prof WAM (Wannie) Carstens van Potchefstroom. Die prysgeld beloop R750 000. Die Jan H Maraisprys word toegeken as erkenning vir sy vakkundige bydrae ten bate van die Afrikaanse taalkunde. Dit sal later vanjaar by ’n funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig word.
Prof WAM Carstens
Hierdie besluit is pas bekend gemaak deur die voorsitter van die keurkomitee, dr Johan van Zyl, oud-rektor van die Universiteit van Pretoria en ook oud-bestuurshoof en -voorsitter van Sanlam.
Prof Carstens is in 1952 gebore. Hy matrikuleer einde 1970 aan die Hoërskool Jan Möhr in Windhoek, Namibië. Hy studeer vervolgens aan die Universiteit Stellenbosch en behaal agtereenvolgens die grade BA Tale (1973), BA Hons Afrikaans en Nederlands (1974), MA in Afrikaanse taalkunde (1977) en D.Litt. (1985) in Afrikaanse taalkunde. Hy het ook in 1975 ’n Hoër Onderwysdiploma (HOD) verwerf.
Sy loopbaan het soos volg verloop: Hy is in April 1977 aangestel as tydelike junior lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US. Vir die tydperk 1980 tot Junie 1991 was hy lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad (UK/UCT).
Sedert Julie 1991 was hy dosent in Afrikaanse taalkunde aan eers die voormalige PU vir CHO en vanaf 2014 aan die Noordwes-Universiteit (NWU) tot met sy aftrede aan die einde van 2017. Hy was eers medeprofessor vanaf 1991 en is in 1995 bevorder tot professor in Afrikaanse taalkunde. Hy was lank betrokke in bestuursposte aan die voormalige PU vir CHO en die huidige NWU, onder meer as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, asook 16 jaar lank as direkteur van die Skool vir Tale op die Potchefstroomkampus. Hy tree by verskeie universiteite in die Lae Lande (Leiden, Gent en Antwerpen) en elders in Europa (Duitsland, Switserland, Oostenryk, Kroasië en Serwië) as gasdosent op. Tydens besoeke aan die VSA het hy gaslesings gelewer aan universiteite in Texas, Kalifornië, Noord-Carolina, Nevada, Pennsylvania. Hy was in 2018 die tweede bekleër van die leerstoel “Zuid-Afrika: Talen, literaturen, cultuur en maatschappij” aan die Universiteit Gent in België. Hy was die inisieerder van verskeie samewerkingsooreenkomste tussen universiteite en instansies in die Lae Lande en in Suid-Afrika. Hy was die mede-oprigter van die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie in die Poëziecentrum in Gent asook van die Festival voor het Afrikaans in Nederland.
Hy was lid van etlike nasionale en internasionale vakbewegings. Hy het by verskeie organisasies die leiding geneem, onder meer as voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011-2014), stigter en eerste voorsitter van die versoeningsgerigte Afrikaanse Taalraad (ATR, 2008-2011), die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (2011-2014); as ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) van 2014-2016.
Hy is reeds sedert 2008 lid van die direksie van die Buro van die WAT op Stellenbosch.
Tydens sy lang loopbaan was hy ook lid van verskeie redaksiekomitees, onder meer Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Literator, Lexikos, SA Tydskrif vir Taalkunde, Internationale Neerlandistiek. Hy was vroeër tien jaar lank lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie (1992-2002), waar hy ’n medewerker aan die 9de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) was.
Hy het in sy navorsing gefokus op die ontgin van nuwe terreine in die Afrikaanse taalkunde (normatiewe taalkunde, tekswetenskap, teks- en taalredigering) en boeke daaroor gepubliseer, soos Norme vir Afrikaans (1989, 2018 6de uitgawe), Afrikaanse Tekslinguistiek (1997) en Teksredaksie (2010) en Text editing (2012) – laasgenoemde twee saam met prof Kris van de Poel van die Universiteit van Antwerpen. Hierdie boek is reeds in twee Afrikatale verwerk.
Die omvattende boekereeks Die Storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika, deel I (2017) en deel II (2019) is in samewerking met prof. Edith Raidt (Wits) geskryf. Al hierdie publikasies word as standaardbronne op die onderskeie terreine gebruik.
Afgesien hiervan was hy mederedakteur van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde [2014, 2017; 2024 (3de uitgawe), in samewerking met prof. Nerina Bosman van UP] – die standaardnaslaanwerk oor Afrikaanse taalkunde aan SA universiteite, asook Ons kom van vêr (2016, 2019; in samewerking met prof Michael le Cordeur van US) – ’n boek waarin die unieke bydrae van bruin mense tot die ontwikkeling van Afrikaans gedokumenteer is. Hy is ook mederedakteur van twee nuwe boeke wat die afgelope paar jaar oor die Afrikaanse taalkunde verskyn het: ’n boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans (Toegepaste taalkunde in Afrikaans; 2022; saam met prof Tobie van Dyk van die NWU), asook Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives (2024; weer eens saam met prof Nerina Bosmanvan UP). In die laasgenoemde boek word die jongste tendense oor die Afrikaanse taalkunde in Engels vir die internasionale mark uiteengesit.
Hy het bykans 50 artikels in vaktydskrifte en 14 hoofstukke in boeke gepubliseer, en het ook ongeveer 90 referate by vakkongresse nasionaal en internasionaal gelewer.
Sy navorsing word gekenmerk deur waagmoed en innovasie, soos blyk uit sy boeke.
Hierdeur is onontginde terreine verken en aan ’n breër publiek bekendgestel. Sy Norme vir Afrikaans is byvoorbeeld een van die Afrikaanse taalkunde se topverkopers.
Erkenning vir sy vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit sy ontvangs van verskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die CJ Langenhovenprys vir Afrikaanse taalwetenskap (twee keer), die Van Ewijckstigting vir sy werk om kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland te herstel, ’n ATKV-Woordwyser-toekenning vir die 4de uitgawe van sy boek Norme vir Afrikaans (2003). Onlangs het die SA Vereniging van Neerlandistiek (SAVN) erelidmaatskap van die vereniging aan hom toegeken.
Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die vêrsiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.
Keuring vind plaas onder kuratorskap van die Akademie en die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff. Albert Grundlingh (Stellenbosch), Gerhard Lubbe (Stellenbosch), Ena Jansen (Amsterdam en Johannesburg, Ian Dubery (Johannesburg), Ilse Feinauer (Stellenbosch) en Johan van Zyl (vroëer van Pretoria).
Laat een reactie achter