Verbintenis en venster: die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede. ‘n Literatuurgeskiedenis in Afrikaans Deel l & 2.
Ek voel my genoop om te reageer op prof Praamstra se resensie van Verbintenis en venster: die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede. ‘n Literatuurgeskiedenis in Afrikaans Deel l & 2. (Internationale Neerlandistiek 58(1): 79-83).
Laat my eers my kaarte op die tafel plaas: ek word in die dankbetuigings by hierdie publikasie bedank dat ek as keurder ook die teks gelees het. Destyds by die lees daarvan was ek dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde – tans is ek departementshoof van Drama -en Toneelkunde – aan die Universiteit van die Vrystaat.
As dosent Neerlandistiek moes ek aspekte van die Nederlandse letterkunde (veral prosa en drama) vir bykans 16 doseer. Dit was ‘n opdraande stryd weens studente se gebrek aan belangstelling in die Nederlandse taal en letterkunde (waarvan hul bykans niks geweet het nie), maar veral weens gebrek aan ‘n toeganklike, volledige literatuurgeskiedenis van die Nederlandstalige letterkunde mét teksontledings, vertaling van bepaalde passasies en veral ‘n deeglike motivering van waarom die Nederlandse letterkunde vandag nog ‘n rol behoort te speel in opleiding in Afrikaans en Nederlands. Die vorige Afrikaanse Nederlandse literatuurgeskiedenis (wat slegs fokus op bepaalde “momente”) dagteken uit 1988. Alles waarvoor ek gesoek het, het ek in hierdie literatuurgeskiedenis gevind.
Miskien is dit gerade om eers Praamstra se belangrikste punte van kritiek ten opsigte van V&V op ‘n rytjie te plaas:
- Van Coller “maakt maar mondjesmaat gebruik van de nieuwe literatuurgeschiedenis van de Taalunie” (81)
- Sy Afrikaanse perspektief op die Nederlandstalige literatuurgeskiedenis is “doorgaans beperkt tot het noemen van Afrikaanse auteurs die zich in hun werk hebben inspireren door Nederlandse of Vlaamse collega’s. Maar veel vaker is het verband gezocht” (81). Hier noem Praamstra onder andere Van Coller se verwysing na Die derde oog (Etienne Leroux), skrywersverenigings in Suid-Afrika en die uitstraling van (imaginêre) reisverhale op byvoorbeeld Karel Schoeman.
- Van Coller sou baie sterk steun op Grüttemeier en Leuker wat die indeling van sy boek betref, maar “voeg daar eigen, nieuwe passages aan toe”, waardeur “het geheel iets rommeligs” kry (81).
- Praamstra sinjaleer enkele foute, soos dat Couperus in die hoofstuk oor die 19e eeu tereg kom, hoewel sy beste werk na 1990 verskyn (81).
- Waar Van Coller “zoals het een literatuurhistoricus betaamt, zijn voorkeur voor bepaalde schrijvers of stromingen zoveel mogelijk voor zich houdt, valt hij nu opens fel uit” en beskuldig Van Dis van oordrywery oor sy eie rol in die struggle én van arrogante beterwetery. Omdat Van Coller ook bewerings oor Van Dis se plagiaat ter sprake bring, “heeft deze passage iets van een afrekening (81).
- Hoewel Deel 2 genade vind by Praamstra (omdat die “vijfenveertig profielen […] goed geschreven [is] en […] in kort bestek een helder beeld van de betrokke auteurs [geven]” (80), plaas hy vraagtekens by die keuse van die behandelde outeurs: “Waarom wel Gorter en niet Kloos en Van Eeden? Waarom wel Marsman en Bordewijk en niet Ter Braak en Du Perron” […] Die keuze word nergens geëxpliciteerd” (80).
Ek bespreek vervolgens die kritiek/besware kripties.
- Dit is total onwaar dat Van Coller “maar mondjesmaat” gebruik maak van die nuwe literatuurgeskiedenis van die Nederlandse Taalunie. Een van die keurders wat self talle werke oor een van die tydgleuwe (“periodes”) wat Van Coller behandel, geskryf het, het hom selfs bedank omdat hy so ruimskoots van sy werk gebruik gemaak het! Daar is inderwaarheid letterlik honderde verwysings na die NTU se literatuurgeskiedenisse; veral Van Oostrom (2006; 2013), Porteman en Smidts-Veldt (2008) en Brems (2006) word telkens aangehaal. In baie gevalle word daar ook krities omgegaan met insigte daarin; veral van teoretiese aard. Só verskil Van Coller sterk van relativistiese literatuurhistoriese benaderings (van bv Van den Berg & Couttenier (2009) en selfs van die kultuurhistoriese benadering van Leemans en Johannes (2013) op p. 147 en verder (kyk ook xix en verder). Hy neem ook die periodiseringsprinsipes wat in hierdie literatuurgeskiedenis gevolg word krities onder die loep (3) én noem dat die Vlaamse en Nederklandse letterkundes deur hierdie geskiedenis weens bepaalde (ideologiese) redes dikwels enigsins kunsmatig bymekaargebring word. Maar ook bepaalde klemplasings, verwysings na en geykte waardeskattings van skrywers en verskynsels word bevraagteken: byvoorbeeld ten aansien van Van Maanen, Lampo, Wolkers; migranteliteratuur, betrokke literatuur, ensovoort. In baie ander gevalle steun Van Coller sterk op dié geskiedenis (veral in hoofstuk 1) en bring dit dan telkens in verband met die Afrikaanse letterkunde.
- Dat Van Coller hom beperk tot die blote opnoem van die name van Afrikaanse skrywers wat deur die Nederlandse letterkunde beïnvloed is én dat baie voorbeelde gesog is, is ook van alle waarheid ontbloot. Hy fokus trouens op ‘n hele paar plekke op sistemiese verbande wat na my gevoel besonder verhelderend is. Só wys hy op die feit dat bepaalde Nederlandse skrywers byna volledig ontbreek in resente Nederlandse literatuurgeskiedenisse of volgens hom onderwaardeer word (ook in die Taalunie se literatuurgeskiedenis).
‘n Voorbeeld is Willem van Maanen (298/299) na wie jy byna onnodig sal soek, maar wie se roman, De onrustzaaier vir dekades in die Afrikaanse letterkunde voorgehou is as navolgingswaardig (ondermeer deur Jan Greshoff en N.P. van Wyk Louw in die laasgenoemde se invloedryke werk wat die Sestigers geïnspireer het, Vernuwing in die prosa). Nog ‘n voorbeeld is Hubert Lampo (338) wie se roman, De komst van Joachim Stiller sentraal gestaan het in Nederlandse letterkunde leerplanne vir baie dekades. Beide romans is opgeneem in die reeks “Literatuur van die Lae Lande” wat in tye van die kulturele boycott wyd voorgeskryf is in kursusse Neerlandistiek aan Suid-Afrikaanse universiteite.
Bostaande voorbeelde is bekend aan enige persoon wat maar iets weet van die Afrikaanse letterkunde. Om Praamstra se bewerings te kontroleer, het ek Hoofstuk 1 deeglik deurgegaan (ander ondersoekers sal presies dieselfde vind in die ander hoofstukke). Op p.2 sê Van Coller duidelik wat hy bedoel met “’n Afrikaanse (didakties-teoretiese) perspektief: dit beteken gewoon “dat sekere gebueure, tekste én skrywers voorrang geniet binne hierdie historiese narratief”. Maar hy gaan inderwaarheid veel verder en lê voortdurend sinvolle verbande tussen Afrikaans en Nederlands; die Lae lande en Suid-Afrika soos soos dié ten aansien van orale literatuur in die Middeleeue en in die autochtone letterkundes van (Suid-) Afrika (2); die ontstaan van Nederlands en Afrikaans (6-7); Bybelvertaling (8); materiële omstandighede (20); mistiek (34-35); rondtrekkende tonelgeselskappe (55), ensovoort.
Daar is verder talle ander plekke waar verwys word na gebruikmaking van Middelnederlandse stof of tegnieke in die Afrikaanse letterkunde (bv. J.C. Steyn se gedig “Germaanse ruïnes, p.7; die vierheffinsvers in Raka, p.22; Beatrijs (30); Henning Pieterse se gebruikmaking van die Bloubaardtematiek wat in die Halewynslied figureer (52); na Pirow Bekker se pryswennende kortverhaal “Die invloed” wat intertekstueel geskakel word met die Middelnederlandse volkballade, “Twee conincskinderen” (53) én die bekende dramaturg, As van Straaten se benutting van die Middelnederlandse moraliteitspel in sy hoorspel. Die engel en die potlooddief). In ons kursus Middelnederlands destyds is vergelyking tussen die Middelnederlandse tekste en hierdie eietydse Afrikaanse tekste met groot vrug gebruik om juis die relevansie van die verre Middelnederlandse letterkunde vir Afrikaanse student tuis te bring.
Ek sou ook kon verwys na die frappante ooreenkomste tussen die “Kerelslied” en “Op Hartebeesfontein” (51/ 53) en Van Wyk Louw as “populariseerder” van die Midelnederlandse letterkunde wat Van Coller uitlig (by name die Middelnederlandse Kersliedere, p.54-55). Van Coller bestee ook ruim aandag aan feodalisme in die Middeleeue en bring dit sinvol in verband met sosiale stratifikasie (eerder van ras as klas) in Suid-Afrika en veral soos dit neerslag vind in dalk die bekendste sub-genre in die Afrikaanse letterkunde, naamlik die plaasroman (10). Hy bring die paasroman later weer ter sprake om die laaste stuiptrekkings van ‘n bepaalde literatuursoort te illustreer (42) én ook die ooreenstemmende siening van die stad te belig, p.62-63. Nog ‘n verbandlegging wat veel verder gaan as die blote opnoem van name, is dié nawerking van die Middelnederlandse diere-epos, Van den Vos Reynaerde in die Afrikaanse letterkunde, byvoorbeeld verwerkings en vertalings daarvan in Afrikaans (mét voorbeelde en evaluering!) en die wyse waarop dit beslag gekry het in volksvertellings, soos dié van Jakkals en Wolf (44 – 49). Weens ruimte-beperking noem ek slegs dat Van Coller uitgebreid skryf oor vertalings waarby student en dosente baat sou kon vind (onder andere van Nederlandstalige romans, vertaal deur Daniel Hugo en selfs ‘n strippenverhaal, Asterix en Obelix (7).
Wat Praamstra ook totaal uit die oog verkloor is dat Van Coller se eie vertalings van fragmente uit belangrike tekste ook ‘n manier is om die verbande tussen Afrikaans en Nederlands te belig (kyk in hierdie verband na Bybelvertalings uit Oudnederland, Nederlands en Afrikaans op p.8 en na vertalings uit ondermeer Beatrijs, Karel en de Elegast en Van den Vos Reynaerde). Sonder om te oordryf, is daar in die ander hoofstukke ook letterlik honderde uiters sinvolle vergelykings wat vir die gryp lê (bv. die opkoms van die koerant en tydskrif; ekokritiek en -literatuur; podiumpoësie; selfpublikasie van tekste en die verminderde rol van kanoniseerders; die belang van die grootstad en huis in die resente prosa, en derglike meer). ‘n Stuk wat enige resensent wat sy sout werd is, kwalik kon mis, is die ooreenkomste tussen die Nederlandse Tagtigers en die Afrikaanse Dertigers wat in besonderhede behandel word (225 e.v.). Dit is selde so volledig uiteengesit, boonop met verwysing na die rol van die teoretici. Dit maak ook al duidelik waarom daar later hoofstukke gewy word aan Gorter en nie aan Kloos en Van Eeden nie.
Wat enigsins na verdagmakery klink, is Praamstra se verwysing na ‘n “opmerkelijke fotokatern met afbeeldingen in kleur. Waar je hier portretten van behandelde boedken of auteurs zou verwachten, tref je er foto’s aan van bekende neerlandici uit binnen -en buitenland” (80). Weer het Praamstra oppervlakkig te werk gegaan. Daar is wél foto’s van standbeelde van ondermeer “die vos Reynaerde”, Guido Gezelle én Mariken van Nieumeghen, foto’s van bekende skilderye van Averkamp en Pieter Breughel die Ouere én foto’s van twee MIddeleeuse handskrifte en verder nog foto’s van Middeleeuse en moderne Nederelandse geboue/ stadsbeelde! Wel is daar óók nie net foto’s van “van bekende neerlandici uit binnen -en buitenland”, nie, maar veral van bekende Nederlandstalige skrywers en digters wat Suid-Afrika besoek het.
Een van die treffendste is vir my die foto van agt digters uit Nederland, België n Suid-Afrika wat geneem is tydens ‘n vertalerswerkswinkel, georganiseer deur Van Coller. UIt hierdie werkswinkel het ‘n hele paar gepubliseerde vertaalde bundels gedigte die lig gesien. Dit alles illustreer die verband tussen die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde op treffende wyse. Dalk kan ons Praamstra se drie voorbeelde van “gesogte” verbandlegging nader bekyk. Eerstens Van Coller se verwysing na ooreenkomste tussen die ridderroman en Die derde oog (Etienne Leroux. Talle letterkundiges het reeds daarop gewys dat die twee voorstellings van Boris Gudenov in dié roman teruggaan op Euripides en Sophokles se twee verskillende voorstellings van die Herakles-figuur, overgesetsynde ruwe volksheid en hoofsheid; die vermenging van dié twee dramaturge se twee dramas – en voorstellings – deur Leroux impliseer dat Herakles in homself ‘n dualiteit herberg, “twee aspekte van die persona” soos Leroux dit stel (en van die moderne mens self). Van Coller bring dit nou ook in verband met twee kontraste in die MIddelnederlandse ridderverhaal, naamlik die botsing tusen seksualiteit (bv. overspel) en hoofsheid. As Praamstra Van Coller se verbandlegging “gesog” vind, sal Van Oostrom (2006: 266) se vergelyking van die heldefiguur in die Roman van Walewein met James Bond of Rambo hom in sy koffie laat stik. Maar al wat Van Oostrom inderwaarheid sê is dat die held hier ook ‘n vermenging van hoofsheid en ruheid (gewelddadigheid is).
Dat hierdie verbande egter nie uit die lug gegryp is nie, blyk ook uit Van Coller se bespreking van Leroux se roman, Die mugu (26), waar die hoofkarakter, Gysbrecht Edelhart as ‘n gesatiriseerde ridder àla Cervantes op ‘n soektog gaan na ‘n loterykaartjie (die Goue Graal); trouens die hele roman volg die klassieke stramien van die queesten. Ook by Gysbrecht bestaan daar dieselfde digotomie. Van Coller se talle publikasies oor Die mugu is aan enige dosent in Afrikaans en Nederlands bekend en hy/sy sou dit kon benut in ‘n kursus Middelnederlands.Van Coller beweer ook nie dat daar steeds Rederykerskamers in Suid-Afrika bestaan nie, maar wys op bepaalde ooreenkomste tussen hulle en skrywersverenigings. ‘n Doodsonde? Boonop sou Van Coller daarop kon wys dat daar nog veel ander ooreenkomste bestaan, byvoorbeeld die uitskryf van prysvrae; behandeling van eie werk) én skadelike tendense wat so ‘n geslote vereniging bedreig: gebrek aan kritiek; ophemeling van eie skrywers, en derglike.
Laastens: dat reisliteratuur en die briefroman (wat Van Coller ook in verband bring met die Afrikaanse literatuur) ‘n wye uitstraling gehad het, is ‘n feit soos ‘n koei. As hierdie verbandlegging Praamstra verbaas, sou Van Coller se aantoon van verbande tussen Robinson Crusoe en onderskeidelik G.A. von Wieligh en J.M. Coetzee én dié tussen die briefroman en Leroux se 18-44 hom waarskynlik verbyster. Tog word hierdie relasies (met bewysplase) aangedui en gaan dit veel verder as die blote opnoem van name. Wanneer jy dus Schoeman se novelle/roman, Op ‘n eiland lees binne ‘n ryk tradisie word dit ander bekyk. Praamstra se apodiktiese stelling is dus in sy geheel uit die lug gegryp en wek ernstige vrae oor sy wetenskaplike objektiviteit en veral sy deeglikheid. Boonop mag ‘n gebrek aan eie kennis (hier van die Afrikaanse literêre veld én dikwels van die Midelnederlandse letterkunde) nie die grondslag vorm vir windskewe oordele nie. - Dat Van Coller baie sterk steun op Grüttemeier en Leuker wat die indeling van sy boek betref, is net waar wat onderdele betref (en hy erken dit ook!), maar bepaald nie wat Hoofstuk 5 en 6 betref nie. Boonop word baie van hierdie onderdele totaal anders behandel én word deurgaans kennis geneem van nuwe insigte, omdat Grüttemeier en Leuker se boek meer as tien jaar voor Van Coller s’n eindig. Praamstra is onlogies in sy berdenering: as jy iemand volg is dit sleg; gee jy nuwe insigte is dit rommelrig. Dit is veral die talle nuwe, onafhanklike insigte wat aandag verdien het; dit is tog onwaarskynlik dat Praamstra dit mis kon gekyk het. Frappante voorbeelde is die stuk oor migranteliteratuur (377-386) en “Tendense in die Nederlandse Letterkunde sedert 2000”(387 en verder). Jy hoef dit hoegenaamd nie eens te wees met wat hier uitgesonder (en selfs voorspel) word nie, maar min kritici sou kon redeneer dat so’n bestekopname nie besonder gedurf is nie. Veral in die lig daarvan dat bittermin Neerlandici intra muros dit ooit aangedurf het.
- Praamstra wys op enkele foute wat jammer, maar kwalik verbasend is in ‘n boek van meer as 400 bladyse. Na my gevoel is juis die teksversorging goed en bevat die boek eintlik min feitefoute, drukfoute, spelfoute. Selfs nie die Nederlandse Taalunie se literatuurgeskiedenis is foutloos nie; in bepaalde dele (kyk Vandevoorde, 2016) is daar letterlik honderde foute in een deel, sonder dat die betreffende bydrae terstond verwerp word. En tereg ook, want geen mens is sonder foute nie. Dit is die billike beoordelaar wat dit snap. Die plasing van Couperus in die 19e eeu – wat volgens Praamstra en van die grootste foute is – word uiters deeglik deur Van Coller beredeneer. Ek haal aan: “’n Skrywer wat uiters moeilik is om te paas, is Louis Couperus (1863-1923). Gewoonlik word daar bepaalde fases in sy oeuvre onderskei soos […] Anbeek (1990: 65) noem pertinent dat Couperus in wese iemand was wat homself voortdurend vernuwe het en ‘[d]at geld in hoge mate voor de periode 1890-1904.’ Anbeek (1990: 64) wie se benadering teruggaan op normdeurbreking en vernuwing het daarom ook hoë waardering vir Metamorfose (1897), ‘n verkapte outobiografie wat met sy kommentaar op Couperus se eie oeuvre ‘[d]it voorbeeld van intertextualiteit binnen één oeuvre doet denken aan de vrijheden die pas vele decennia later door zogenaamde ‘postmoderne’ auteurs zijn uitgebuit.” In Schenkeveld-Van der Dussen (1963: 636 en verder) en Van Boven en Kemperink (2012: 115; 119) word Couperus ook vernaamlik bespreek as behorende tot die 19e-eeuse naturalisme. Tog word ook sy dekadentisme; tipies van die fin de siècle genoem (ibidem: 147). Juis op grond van sy geankerdheidf in die naturalisme (‘n tipiese 19de-fenomeen) én vanweë prosa wat beskou word as tipies van die eeuoorgang, plaas ek hom by die 19de-eeuse letterkunde. Daardeur word egter nie ontken dat sy werk in baie opsigte ook hoort by die Tagtigers en die 20ste eeu nie.”
- Praamstra sê op apodiktiese wyse dat, soos dit ‘n literatuurhistoricus “betaamt”, hy sy voorkeur vir bepaalde skrywers of strominge “zoveel mogelijk voor zich” behoort te hou. Waarom sou ek wou vra? Reeds die keuse van tekste, stromingen en skrywers wat genoem of bespreek word in enige literatuurgeskiedenis, impliseert reeds ‘n keuse; periodisering doen dit nog duideliker. Belangriker is myns insiens of die betrokke literatuurhistorikus sy keuse motiveer. Dan word word Van Coller daarvan beskuldig dat hy met Van Dis wil “afreken” (81). Praamstra impliseer dat Van Dis ‘n uitsonderingsgeval in hierdie verband is. Inderdaad. Min Nederlandse skrywers het wetenskaplike werk verrig oor die Afrikaanse letterkunde (Van Dis het ‘n skripsie geskryf aan die Universiteit van Amsterdam oor Breyten Breytenbach), het as joernalis na Suid-Afrika gereis en voer onderhoude met verskillende skrywers. Anders as die meeste van sy tydgenote was Van Dis dus goed ingelig en word hy ook gasvry ontvang. Op sy minste behoort dit begrip (hoewel beslis nie noodwendig goedkeuring nie) te bring. Daarvan is min sprake in sy (aanvanklike) boeke oor Suid-Afrika wat vol onverdraagsaamheid en woede is en hy raak by tye die gestereotipeerde, argetipiese Hollander met sy “nauw, volgens mij”, boonop met vingertjie omhoog. As ek moet raai, gaan dit dus by Van Coller om ‘n afrekening met ‘n bepaalde mentaliteit van beterweterigheid en die onvermoë om gebalanseerd te oordeel. Helaas in Praamstra se resensie ook nie hiervan vry te pleit nie. In die hoofstuk oor Van Dis (Dell 2, bl. 529) word ook uitvoerig geskryf oor Van Dis se plagiaat sonder dat dit van Praamstra enige kommentaar ontlok.
- Hoewel Praamstra Deel 2 positief beoordeel: (“goed geschreven [is] en […] in kort bestek een helder beeld van de betrokke auteurs [geven]” (80), doen hy desondanks nie die moeite om die betrokke hoofstukke met erns en met deeglikheid te bespreek nie. Wat ‘n mens op sy minste sou verwag van enige deeglike resensie is dat hierdie hoofstukke (ten opsigte van inhoud, interpretasie van werke en evaluering) vergelyk sou word met Van Coller se behandeling van dieselfde skrywers. In feite word ‘n publikasie dus beoordeel op grond van slegs ‘n gedeelte daarvan. Dit bewys ook ‘n ondiens aan Suid-Afrikaanse Neerlandici wat hier in die geselskap verkeer van die voorste Neerlandici ter wêreld en hulle bydraes graag beoordeel sou wou sien.). Wel plaas hy vraagtekens by die keuse van die behandelde outeurs: “Waarom wel Gorter en niet Kloos en Van Eeden? Waarom wel Marsman en Bordewijk en niet Ter Braak en Du Perron” […] Die keuze word “nergens geëxpliciteerd” (80). Indien hy die moeite gedoen het om die betrokke gedeeltes oor én die behandeldes én die weggelate skrywers deeglik te lees, sou die antwoord dalk duideliker gewees het vir hom, bv. die enorme invloed wat Gorter op die Dertigers uitgeoefen het – veel meer as of Kloos of Van Eeden en trouens steeds doen. As ‘n mens in ag neem dat die Dertigers deurdronge was van Marsman (en dat Van Wyk Louw ‘n belangrike inleiding by sy werk geskryf het én hulle alles in hul vermoë gedoen het om die Marsmans tydens die oorlog in Suid-Afrika te ontvang), is die keuse vir Marsman vanselfsprekend. Weer eens ongegronde kritiek wat berus op onvoldoende kennis van die Afrikaanse letterkunde; ‘n letterkunde wat deur enige Suid-Afrikanse nagraadse student of dosent in Afrikaans en Nederlands so goed geken sal wees dat die verbande dadelik gesnap sal word. Vir só ‘n student en dosent is hierdie literatuurgeskiedenis bedoel, aldus die “Inleidende opmerkings”.
Na my gevoel is Deel 1 van Van Coller se literatuurgeskiedenis goed. Dit bevat deurgaans historiese kontekstualiserings, maak verbande tussen twee of meer literêre sisteme duidelik, gee puik interpretasies van seminale tekste en bring ‘n hele klomp knap vertalings van fragmente uit die Nederlandse letterkunde. Ek wens daar was so ‘n literatuurgeskiedenis toe ek Nederelands gedoseer het.
Ten slotte. ‘n Kritikus skryf ‘n bespreking van iemand anders se werk met begrip, maar veral met beskeidenheid. Foute word uitgewys, maar daar behoort ook waardering betoon te word vir wat goed is. Resensente moet hulle veral weerhou van neerhalende oordele; dit hoort eerder in ‘n polemiek. Hoewel ek dus waardering het vir Praamstra se moeite het hierdie resensie veel weg van ‘n “afrekening” om sy eie woorde te siteer. Kritiek is meestal uit die lug gegryp, dit getuig van swak/ oppervlakkige lees én ‘n uiters gebrekkige kennis van baie van die periodes (soos die Middeleeue) en die Afrikaanse letterkunde. Nêrens word maar boonop ‘n poging gedaan om wesenlike metodologiese kwessies (soos periodisering; literêre evolusie; kontekstualisering; intertekstualiteit en evaluering) in hierdie literatuurgeskiedenis diepgaande te bespreek nie. Daarom bied Praamstra se resensie geen objektiewe beeld van ‘n publikasie wat meer as verdienstelik is nie.
Bibliografie
Anbeek, Ton. 1990. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur tussen 1885 en 1985. Amsterdam: De Arbeiderspers.
Brems, H. 2006. Altijd weer vogels die nesten beginnen. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1945-2005. Amsterdam: Bert Bakker.
Grüttemeier, R. en Leuker, M, 2006. Niederländische Literaturgeschicte. Stuttgart-Weimar: Verlag J.B.
Leemans, I. en Johannes, G. 2013. Worm en donder. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1700-1800: de Republiek. Amsterdam: Bert Bakker.
Porteman, K. en Smidts-Veldt, M. 2008. Een nieuw vaderland voor de muzen: geschiedenis van de Nederlandse literatuur 156–1700. Amsterdam: Bert Bakker.
Schenkeveld-Van der Dussen, M.A. 1963. Nederlandse Literatuur, een geschiedenis. Groningen: Martinus Nijhoff UItgevers.
Van Boven, E. en Kemperink, M. 2006. Literatuur van de Moderne tijd. Bussum: Coutinho.
Van den Berg, W. & Couttenier, P. 2009. Alles is taal geworden. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1800- 1900. Amsterdam: Bert Bakker.
Van Oostrom, L.P. 2006. Stemmen op schrift. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur vanaf de het begin tot 1300. Amsterdam: Bert Bakker.
Van Oostrom, L.P. 2013. Wereld in woorden. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1300-1400. Amsterdam: Bert Bakker.
Vandevoorde, H. 2016. Ten oorlog! Een nieuwe literatuurgeschiedenis van de eerste helft van de twintigste eeuw. Ons Erfdeel, Augusutus: 142-145.
Laat een reactie achter