Horizons of political/poetical contestation: Suid-Afrikaanse interseksionele perspektiewe oor dissiplines en tale heen
20 en 21 November 2024
Hoofsprekers: Christi van der Westhuizen en Anastasia de Vries
Interseksionaliteit is vandag ’n bekende teoretiese vertrekpunt in die studie van die geesteswetenskappe reg oor die wêreld. Suid-Afrika is geen uitsondering nie, sê Moletsane en Reddy (235). Dié teorie se vroeë wortels kan teruggespeur word na die die werk van swart Afro-Amerikaanse feministiese pioniers in die 19de eeu. Sedertdien het dit as teoretiese invalshoek suksesvol die akademiese toneel betree. In hierdie konteks is inleidende bydraes gelewer deur vooraanstaande skrywers soos bell hooks, Kimberlé Crenshaw (wat die term bedink het), en Patricia Hill Collins met haar konsep van die “matrix of domination” (12). In die 21ste eeu is interseksionaliteit steeds alomteenwoordig in die werk van toonaangewende akademici soos Jennifer Nash en Anna Carastathis. Laasgenoemde wys op die voortgesette en miskien selfs toenemende relevansie daarvan, aangesien “oppressive power relations have become increasingly mystified, inequalities seemingly more intractable, and institutions seemingly more difficult to transform” (3).
’n ‘Interseksionele’ benadering poog om die impak van verskillende magstrukture uit te wys deur die onderlinge verbondenheid van veelvuldige sisteme van sosiale kategorisering bloot te lê wat mense se lewens en ervarings beïnvloed en vorm. Interseksionaliteit vereis ’n verskuiwing in denke oor identiteite en word beskryf as “difficult work” (Nash), maar ook as die “most important contribution that women’s studies have made so far” (McCall 1771). Dit is ’n analitiese hulpmiddel wat die verstaan van sosiale verskynsels, van interpersoonlike sowel as kulturele aard, vergemaklik (Collins en Bilge 7). ’n Interseksionele benadering is dus in werklikheid ’n alledaagse praktyk – ’n manier hoe ons as individue ons lewens en interaksies met ander mense en verskillende instellings navigeer.
Alhoewel die tradisie van interseksionaliteit in die Globale Noorde ontwikkel is, kan ’n interseksionele lens, beide as ’n kritiese, teoretiese konsep en in die praktyk, ’n nuttige hulpmiddel wees om magstrukture in alle gebiede wat deur ongelykhede gekenmerk word, te ondersoek. In die konteks van Suid-Afrika argumenteer Moletsane en Reddy (235) dat “while the country has a rich (and celebrated) diversity in terms of race, ethnicity, class, religion, gender, sexuality, language and so on, these markers also highlight the deep inequalities that characterise human relations in the country”. Voorts vind Shefer (382) dat die multidimensionele vorme van onderdrukking hardnekkig voortduur in post-apartheid Suid-Afrika. Gevolglik het navorsers soos Christi van der Westhuizen, Amanda Gouws, Barbara Boswell, Desiree Lewis en Gabeba Baderoon ’n Suid-Afrikaanse interseksionele perspektief aangeneem. Tans word ’n spesiale uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde ook oor feminismes en Suid-Afrikaanse letterkunde voltooi. Boonop het die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam onlangs Footnotes bekendgestel, ’n aanlynreeks oor interseksionele navorsingstrategieë in Suidelike Afrika.
Ons oproep om referate is vir voorstelle wat sulke Suid-Afrikaanse interseksionele tendense aanspreek, en wat die heterogene manifestasies wat dit histories en vandag aanneem, ondersoek. Geïnspireer deur Carastathis (141) glo ons dat interseksionaliteit nie net op persoonlike vlak verstaan moet word nie, maar ook as ’n “horizon of political contestation”. Ons moedig diversiteit aan in terme van navorsing uit akademiese domeine deur ’n interdissiplinêre standpunt te onderskryf. Alhoewel interseksionaliteit ’n lang geskiedenis het in kritiese rasstudies en vrouestudies, kan dit geïmplementeer word in ’n wye verskeidenheid van velde wat wissel van literatuur (Gqola) en taalkunde (Levon) tot geskiedenis (Hendricks et al. ), kuns (Ankyiah en Bamfo), musiekologie (Decoste), teaterwetenskappe (Wijesiri), regte (Schiek), sosiologie (Choo en Ferree) en politieke wetenskap (Hughes). Benewens tradisionele referate sal ons meer kreatiewe of visueel-georiënteerde bydraes, paneelbesprekings en onderhoude oorweeg. Ons kollokwium sal in ’n hibriede formaat plaasvind met beide aanbiedings wat in persoon gelewer word en aanlyn bydraes, wat soveel mense moontlik sal toelaat om deel te kan neem en dit by te kan woon. Ons beplan die publikasie van (’n seleksie van) die aangebode referate in ’n spesiale uitgawe van die akademiese tydskrif Gender Questions.
Abstrakte
Dien asseblief abstrakte/opsommings in vir referate van 20 minute in Afrikaans, Nederlands of Engels. Die opsommings moet ’n van maksimum 500 woorde wees en teen 30 April 2024 aan
afrikaans@ugent.be gestuur word. Vir meer inligting oor die kollokwium of alternatiewe aanbiedingsvoorstelle, kontak asseblief die organiseerders, Martina Vitackova (martina.vitackova@ugent.be) en Lieselot Tuytens (lieselot.tuytens@ugent.be).
Aanbevole bronne
Boswell, Barbara. And Wrote My Story Anyway: Black South African Women’s Novels as Feminism. Wits U P, 2020.
Gouws, Amanda. “Feminist Intersectionality and the Matrix of Domination in South Africa.” Agenda: Empowering Women for Gender Equity vol. 31, no. 1, 2017, pp. 19-27.
Lewis, Desiree & Gabeba Baderoon. Surfacing: On Being Black and Feminist in South Africa. Wits U P, 2021.
Moletsane, Relebohile & Vasu Reddy. “The National Development Plan as a Response to Poverty and Inequality in South Africa.” Poverty & Inequality: Diagnosis, Prognosis, Responses. State of the Nation, edited by Crain Soudien, Vasu Reddy & Ingrid Woolard. HRSC Press, 2019, pp. 235-352.
Shefer, Tamara. “Narrating Gender and Sex in and through Apartheid Divides.” South African Journal of Psychology vol. 40, no. 4, 2010, pp. 382-95.
Van der Westhuizen, Christi. “Race, Intersectionality, and Affect in Postapartheid Productions of the ‘Afrikaans White Woman’.” Critical Philosophy of Race vol. 4, no. 2, 2016, pp. 221-238.
Laat een reactie achter