Hoewel Afrikaans daagliks gepraat word in die (hoofsaaklik Moslem)gemeenskap wat die uitsaaier bedien, het polities bewuste luisteraars in die verlede al hoe verder wegbeweeg van Afrikaans – as gevolg van die rol daarvan in die apartheidsbestel, onder meer as verpligte taal van onderrig in skole.
Maar dié toedrag was aan die verander …
In 2008 het die Stem van die Kaap ’n meningsopname gehou om luisteraars se taalvoorkeure te bepaal. In daardie stadium het die stasie 60 persent in Engels, 30 persent in Afrikaans en 10 persent in ander tale, Xhosa en Oerdoe, uitgesaai.
Byna 80 persent van die inbellers wat aan die meningspeiling deelgeneem het, het aangedui hulle wou graag 20 persent meer Afrikaans op die lug hoor. Van die aanlyn luisteraars wat geantwoord het, oor die algemeen meer professionele mense, wou 36,8 persent hê die Afrikaanse uitsaaityd moes verleng word.
’n Nuwe waardering vir Afrikaans was te bespeur: “Mag ons nooit vergeet nie,” sê Mundia, “dat die eerste Afrikaanse manuskrip ’n Koran was. […] Ons hoef nooit skaam te voel oor ons eie unieke vorm van Afrikaans nie. Dit is wie ons is. Ons is trots daarop.”
Dat Afrikaans nie langer op die mond geval is nie, word bevestig deur die 2011-sensusstatistieke, asook ’n mediaverklaring wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassebetrekkinge verlede maand uitgereik het: Afrikaans is g’n “wit taal” meer nie. 6,9 miljoen mense in Suid-Afrika praat Afrikaans by die huis. Van hierdie sprekers van Afrikaans is net 2,7 miljoen (slegs 40 persent) wit.
Soos in baie lande word Engels ook hier toenemend die taal van onderrig. Maar in woonbuurte reg oor Suid-Afrika – op voetsoolvlak – vloei Afrikaans, in al sy variëteite en registers, toenemend sonder skroom.
Kom. Luister. So klink Afrikaans vandag. En so.
Viva Afrikaans. Viva!
Laat een reactie achter