
Door Alwyn Roux
Nerina Bosman en Wannie Carstens (2020) skryf in Tussen geleentheid en uitdaging. Die Nederlandistiek in Suid-Afrika wat in De Lage Landen in Februarie verskyn het dat “daar steeds ʼn gesonde belangstelling in die bestudering van Nederlands as akademiese terrein” in Suid-Afrika bestaan; dit blyk veral uit “nagraadse skripsies, verhandelinge, en proefskrifte van studente”, asook die publikasies in akademiese tydskrifte. Verder noem hulle dat “[s]amewerking tussen individuele navorsers en hulle nagraadse studente in beide die Lae Lande en Suid-Afrika […] eweneens ʼn goed gevestigde gebruik” is “met gedeelde publikasies en navorsingsprojekte”. Alhoewel, soos Carstens en Bosman (2020) tereg opmerk, is daar talle uitdagings vir die Neerlandsitiek in Suid-Afrika “as gevolg van die politieke klimaat en die tersiêre omgewing waarin ons in Suid-Afrika werk”, wat onder andere befondsing en krimpende studentegetalle insluit.
As ʼn manier om opnuut belangstelling vir die bestudering van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde te kweek en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan op ʼn koste-effektiewe wyse te oorbrug, wil ek graag ʼn voorstel maak vir die daarstel van ʼn nagraadse studiegroep met studente van die Lae Lande en Suid-Afrika (maar ook Pole, Tsjeggië, Duitsland, Namibië en Suriname). Die voorstel behels die oprig van ʼn aanlyn forum waarby nagraadse studente betrokke is met seminare, leesgroepe en werkswinkels soortgelyk aan die werksaamhede by ASCA aan die Universiteit van Amsterdam. Aangesien lede van die voorgestelde studiegroep uit verskeie lande kom, sal ontmoetings nie tot ʼn enkele instansie (byvoorbeeld ’n residensiële universiteit) beperk kan word nie, maar sal daar van ʼn aanlynplatform gebruik gemaak moet word soos Zoom, Microsoft Teams of Skype. ʼn Webblad sal ook spesiaal vir die projek opgestel word wat inligting oor die studiegroep se jaarprogram en navorsers verstrek.
Hoe die lesings sal werk
Die maandelikse lesings sal ’n sekere tema of onderwerp aanspreek waarby al die lede sal baatvind. Hierdie lesings sal dan maandeliks deur een of twee van die lede van die studiegroep aangebied word. Veronderstel D.J. Opperman se proefskrif Digters van Dertig (1954) is die onderwerp vir daardie spesifieke akademiese jaar, kan die verskillende figure wat in die proefskrif bespreek word, elke maand deur een of twee van die lede bespreek word. (Die figure sluit in I.D. du Plessis, C.M. van den Heever, N.P. van Wyk Louw, Uys Krige, W.E.G. Louw en Elisabeth Eybers.) Vrae wat hieruit na vore sal kom, sluit byvoorbeeld in tot watter mate dié figure vandag nog relevant is en hoe hulle ’n venster oopmaak op die Nederlandstalige letterkunde. Mens sou ook na seminale studies kon gaan kyk wat in Nederland en Vlaandere verskyn het met spesifieke fokus op belangrike figure en hulle verhouding met Afrikaans en Suid-Afrika. (Hierdie is net ’n voorbeeld ter illustrasie van wat bestudeer kan word.) Aan die einde van die studiejaar, sal die lede die kans kry om ʼn miniseminaar op die aanlyn forum aan te bied met spesifieke fokus op die onderwerpe wat gedurende die jaar bespreek was. Die referate wat gelewer word, kan dan voorgelê word aan spesiale uitgawes van akademiese joernale.
‘n Oop uitnodiging
Tans is die uitdaging om medewerkers vir die projek te verkry, ʼn jaarprogram op te stel en die studiegroep van stapel te stuur. Enigeen wat belangstel om deel te word van die projek, kan my gerus voor Vrydag 31 Julie 2020 kontak by erouxap@unisa.ac.za. Bestuursposisies wat tans beskikbaar is, is voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris, tesourier en addisionele lid.
Laat een reactie achter