TK kies koers na AWS12
In 2017 verskyn die elfde uitgawe van Afrikaans se Groenje Boekje, die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), saamgestel deur die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die gedrukte boek in sy rooi omslag beslaan 800 bladsye; 20 hoofstukke wat die spelreëls van hedendaagse Afrikaans uiteensit; ’n woordelys wat spelleiding gee en saam met die reëls gebruik moet word; 9 bylaes (afkortings en simbole; buitelandse geografiese name; landname met hulle geldeenhede en ISO-kodes; ’n transliterasietabel vir die Cyrilliese alfabet; geografiese eiename in die Ooste; elemente in die periodieke tabel; riglyne by die gebruik van die SI‑stelsel; skryfriglyne met betrekking tot Omgangsafrikaans; ’n terminologielys) en ’n indeks.
Hoe sal die twaalfde uitgawe van die AWS, wanneer dit verskyn, van dié eeufeesuitgawe verskil? Is ’n AWS nog nodig? Afrikaanse vertalings en nuutskeppings? Is spelfoute noodwendig sleg vir kommunikasie?
In 1982 beraam Buckminster Fuller die verdubbelingstempo van die kennis. Aan die einde van die negentiende eeu, wys sy grafiek, verdubbel kennis elke eeu; in 1945 elke 25 jaar; teen 1982 elke 12 maande. In 2006 word in ’n IBM-verslag voorspel dat spesialiskennis, afhangende van die betrokke veld, binne afsienbare tyd elke 12 uur kan verdubbel.
Nuwe spesialisvelde lei tot nuwe beroepe. Nuwe beroepe verg die ontwikkeling van nuwe beroepstale, tegnolekte, vaktaal.
Kommunikasie is ’n menslike behoefte. In Afrikaans sal daar nog lank gekommunikeer word. Ons verhale is deel van wie ons is, maar vir doeltreffende hoëvlak-kommunikasie is gedokumenteerde, gestandaardiseerde taalinhoud nodig.
Die aard van die tegnologie wat vir kommunikasie gebruik word, het ’n toenemende invloed op die samelewing en die inhoud van kultuuruitinge.
Gewone mense het op verskillende maniere toegang tot inligting.
In ’n onlangse praatjie werp dr. Riana Barnard lig op veranderings in die uitgewersbedryf: Hoër koste en veral moeiliker bemarking skep by uitgewers ’n groter behoefte aan kapitaal. Dit word goedkoper om boeke te maak, maar duurder om die regte boek betyds by die regte leser te besorg.
Die kringloop van produksie (skryf, redigeer, verpak), die verspreiding en selfs lees van tekste verloop in baie gevalle volledig digitaal.
Aan die begin van die 21ste eeu wedywer die massamedia om gebruikers se aandag en tyd.
Die dood van die boek word keer op keer voorspel. Langs elke nuwe mededinger wat verskyn, moet boeke en ander publikasies hulle plek herdefinieer.
In Januarie 2021 is 4,66 miljard mense (59,5% van die wêreldbevolking) aktiewe gebruikers van die internet. Van dié gebruikers gebruik 92,6% (4,32 miljard) mobiele toestelle (tabletrekenaars, maar veral selfone). Aktiewe gebruikers pas elke skakel van die kommunikasieketting by hulle behoeftes aan.
Wat hou al hierdie dinge vir die werk van ’n Taalkommissie in?
Die tyd waarin ons leef – en die covidpandemie – skep nuwe uitdagings, maar ook nuwe geleenthede. Of en hoe hierdie geleenthede benut gaan word, vereis grondige en deurlopende strategiese beplanning.
Wat moet die Taalkommissie vandag doen om nie net vanjaar en volgende jaar nie, maar oor ’n dekade van nou af steeds relevant te wees? Hoe moet ’n Afrikaanse taalkommissie aan die einde van 2021 saamgestel word? Hoeveel lede, met watter vaardighede, uit watter spesialis- en geografiese gebiede? Hoe moet die AWS oor vyf, oor tien jaar lyk?
In die leksikografie word die belangrikheid van die “refleksiewe komponent” by die maak van ’n woordeboek dikwels beklemtoon – die goue draad wat deur die proses loop. H.E. Wiegand het daarna verwys, hier prof. Rufus Gouws.
Deur vrae, gesprekke word projekte geëvalueer en herwaardeer. Hoe verloop die proses? Is aanpassings nodig? Ter verfyning van Wiegand se siening onderskei Gouws tussen ’n eksterne en ’n interne refleksiewe komponent: ’n kritiese besinning deur die samestellers van die bron, in hierdie geval die Taalkommissie; en ’n kritiese besinning oor die projek deur mense buite die redaksie, in hierdie geval die SA Akademie en sy raad, donateurs, resensente en veral ook Afrikaansgebruikers self. Deur marknavorsing (e-pos-vraelyste, besprekings in die sosiale media, meningspeilings, werkswinkels) kan ’n breë gehoor bereik en die behoeftes van huidige en toekomstige AWS-gebruikers ondersoek word. Voldoen AWS11 aan hulle verwagtinge? Hoe kan daarop verbeter word? Watter aanpassings is nodig?
Beide komponente is noodsaaklik vir die neem van redaksionele en skeduleringsbesluite.
Die beplanning van ’n twaalfde AWS is reeds aan die gang. Aandag word bestee aan die toegangstruktuur en verpakking van die inhoud; vereenvoudiging, herformulering en herorganisasie van die spelreëls, waar nodig; uitsonderings; opmerkings; kruisverwysings. ’n Inleiding tot die ortografie van Afrikaans; ’n nuwe lys name en afleidings van plekke in Suid-Afrika en Namibië; nuwe transliterasietabelle vir Arabies, Grieks en ander Germaanse tale; die afkortingslys en verryking van die woordelys is van die dinge wat aandag kry.
Dit stuk verscheen eerder in de nieuwsbrief van de SA Akademie.
Laat een reactie achter