’n Vroeg Gesproke Africaansch Skets
Vroeg Gesproke Africaansch (VGA) bring die verlede op lewendige wyse terug met gedramatiseerde opvoerings en moderne video-sketsverwerkings van 1800’s Suid-Afrikaanse tekste. Hierdie tweede VGA-skets is ’n komiese verwerking van ’n brief wat oorspronklik in 1826 in die Kaapsche Courant verskyn het. Dit is uit die oogpunt van die karakter Jan Tanoe, wat keelvol is vir die honde wat dag en nag blaf – en blykbaar meer voorregte het as mense!
Waaroor gaan die skets?
In hierdie VGA-verwerking sit Boer en Neef rustig op die stoep in die buurt van Kempton Park (2025). Maar Neef sukkel om sy koerant te lees, want die honde blaf aanhoudend. Boer verduidelik hom dat honde in Kempton Park hoër status het as mense – met hul eie blyplek, bediendes, en selfs ’n beter dieet!
Waar kom dit vandaan?
Die oorspronklike brief, onderteken deur Jan Tanoe, is deel van ’n reeks fiktiewe karakterbriewe, waarskynlik geskryf deur die redakteur van die koerant, J. Suasso de Lima – ’n 19de-eeuse Kaapse digter en dramaturg. Met spitsvondige humor kla Tanoe oor hoe die honde van Kaapstad nie net sy nagrus nie, maar ook sy godsdiens- en gesinslewe ontwrig. Hy deel sy menings – en dié van sy vrou, die vagabond, en sy ou skoolmeester.
Laat een reactie achter