
Die Nederlandse joernalis en historikus Bart de Graaff was ’n ware vriend van Suid-Afrika. Die laaste keer toe ek hom gesien het – ’n week voor sy onverwagse dood – was op ’n koel herfsaand in ’n Seepuntse restaurant. Aan tafel was ook ons eggenotes. Die gesprek het hoofsaaklik gegaan oor Bart se jongste boek oor die Khoisan-mense van Suidelike Afrika. Almal het Afrikaans gepraat, met hier en daar ’n Nederlandse klank.
Bart was toe nog besig om – saam met sy medenavorser, Miriam Grootscholten – aan die boek te werk. Wat hom op daardie tydstip geboei het, was die oorsprong van die familienaam Windvogel. Dit kom nie in Nederland as ’n van voor nie, maar daar was wel ’n Hessekwa-kraal met dié naam in die Overberg. “Windvogel” is ’n Nederlandse spreektaalwoord vir ’n wulp – ’n trekvoël uit die familie van die strandlopers.
Die eerste vermelding van dié agternaam in Suid-Afrikaanse argiewe is van Daniel Windvogel wat in 1791 met Amalia Cloete op Boschmansrivier in die distrik Uitenhage getrou het.
Toe ons in die restaurant opstaan om te gaan, keer die man by die tafel langsaan ons voor. Dit is die interessantste gesprek wat hy in jare afgeluister het, sê hy.
In die kollig
Nou het dié interessante navorsingswerk beslag gekry in ’n boek met die titel: Windvogel en Cupido. Die herkoms en betekenis van Nederlandsklinkende Khoisan-vanne in Suid-Afrika (Turksvy Publikasies, 2025).Dit is die derde boek van Bart de Graaff oor die vroegste bewoners van die suidpunt van Afrika wat ek uit Nederlands vertaal het. Die ander twee was Ware mense (Protea Boekhuis, 2017) en Barend Barends, die vergete kaptein van Danielskuil (Paternoster Books, 2019).
Bart het egter nooit die boek in sy hand gehou nie. Hy sterf op 30 Maart 2024 in Pretoria.
Maar waarom dan ’n boek oor Khoisan-familiename? Identiteitsoeke is ’n aktuele onderwerp by die Khoisan-mense van Suider-Afrika. Kennis van die herkoms en betekenis van familiename is ’n essensiële deel daarvan. Hierdie studie verduidelik waar die Nederlandsklinkende vanne van die oudste bevolkingsgroep, die eerste mense van Afrika, vandaan kom. Die historiese en kulturele bande van die “bruin gemeenskap” in Suid-Afrika met die koloniale verlede van Nederland word hier in die kollig gestel. Vyf-en-negentig agtername word alfabeties bespreek – van Adonis tot Yzerbek.
Rondeganger
In haar voorwoord verduidelik Miriam Grootscholten dat hierdie gepubliseerde studie konsentreer op ’n stuk gedeelde onstoflike kulturele erfgoed van Nederland en Suid-Afrika – iets wat tot dusver onontgin gebly het. Uit die versamelde naamlys blyk dat ’n deel van die inheemse familiename teruggevoer kan word na die tyd van die VOC (1652-1795). Dink maar aan die vanne Bloem, Frederiks en Van Wyk. Uit dié tydperk kom ook slawename wat vanne geword het: Fortuin, Galant en Geluk. (Dit is ook name wat in Suriname voorkom.) Dan is daar ou inheemse stamname wat die die Khoi self in Kaaps-Hollands vertaal is, soos Hoogstaander, Papier en Buffelbout.
Daar is ook Nederlandsklinkende name wat in Suid-Afrika ontstaan het. Rondeganger of Rondganger is ’n voorbeeld daarvan. Die herkoms van dié familienaam is besonder interessant. Dit is die beroepsnaam vir ’n soldaat wat met behulp van ’n sandloper die tyd bepaal. In die Kasteel van Kaapstad was twee soldate in die waghuisie gestasioneer, van wie een – wanneer die sandloper omgekeer word – met ’n knuppel die klok van die Kasteel moes lui – een slag elke uur.
In 1752 word vaandrig August Frederik Beutler op sy ekspedisie vanuit Kaapstad na die ooste vergesel deur die Khoisan-gidse Couragie en Rondeganger. Dit was waarskynlik hul voorname. Op 3 Augustus 1793 word Jan Rondeganger ingeskryf by die Corps Pandoeren. Dit is die eerste vermelding van Rondeganger as ’n Khoisan-familienaam in Suid-Afrika.
Labberen
Couragie of Koerasie kom ook as agternaam voor. Dit is afgelei van “courage” (dapperheid) en oorgeneem uit Frans of Engels. Die eerste vermelding van Couragie as ’n Khoisan-van is die doodsberig van Adam Couragie op tagtigjarige ouderdom te Fraserburg op 30 November 1889. Hy was ’n bokwagter en het ses bokke nagelaat.
Nie al die name wat in Suid-Afrika ontstaan het, is so vleiend soos Couragie nie. Daar is mense met die agternaam Bloedoog, Dikkop en Slaparm. Bloedoog is die vertaling van ’n Khoi-voornaam. Die eerste vermelding in ’n argief as ’n Khoisan-familienmaam is van Mossie Bloedoog wat op 19 Januarie 1926 op Abiqua Puts, Gordonia, gesterf het.
’n Agternaam waarvan die negatiewe konnotasie lank reeds verlore geraak het, is Labberlot. Op die lys van die Corps Pandoeren word in 1793 Jan Labberlot genoem. Daar was ‘n opvarende van die VOC met die naam Laberlot (sic), maar hy kan nie die stamvader wees nie, want hy sterf in die Ooste. Wat beteken “labberlot”? In Nederlands verwys dit na ’n slordige persoon of iemand wat in ’n ongelukkige toestand verkeer en nie veel werd is nie. Die werkwoord “labberen” beteken om lui te wees.
Mite
De Graaff en Grootscholten se boek sluit af met twee inskrywings oor die name van dae en maande wat as vanne voorkom. Reeds ’n paar maande ná sy aankoms aan die Kaap vra Jan van Riebeeck by die VOC se Here XVII vir slawe om handerarbeid te kom verrig. Die eerste slawe het van verskillende plekke gekom: Madagskar, Bengale, Ceylon, Kaap Verde, Guinee en Angola. Die kopers en verkopers het die slawe nuwe name gegee omdat hul egte name te vreemd was. Name van dae en maande was baie gewild.
Met die verloop van tyd het hierdie noemname ook vanne geword. Goewerneur Willem Adriaan van der Stel het slawe gekoop met byna al die name van maande, met die uitsondering van April. In die slaweregisters van Suriname bestaan die name van maande as agtername ook. Die naam Januarij kom byvoorbeeld 240 keer voor.
Dat die aankomsmaand van ’n slaweskip aan die Kaap gebruik is om slawe mee te benoem, is waarskynlik ’n mite.
100 gulde
Vanne in die vorm van die naam van ’n dag is, in teenstelling tot maandname, nie almal afkomstig van slawename nie. Ook kom nie alle dae as naam voor nie, of hulle is kaars. In Nederland is net Zondag en Maandag bekend. In Suid-Afrikaanse argiewe ontbreek die naam Dinsdag, en Woensdag kom selde voor. Een van die min optekenings is van Anaatje Woensdag. Sy is gebore rondom 1850 en sterf op vyftigjarige ouderdom op Robertson.
Dirk en Elizabeth Zondag word op 25 Maart 1793 lid van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Vanaf 1685 het die hoë kommisaris H.A. van Reede beslis dat slawe ná dertig jaar diens vryburgers kon word. Die voorwaarde was dat hulle Nederlands kan praat en belydenis aflê om lid van die kerk te word. Boonop moes ’n bedrag van 100 gulde betaal word.
C.J. Langenhoven het die rymmoontlikhede op die familienaam Zondag raakgesien en dit in die volgende limeriek uitgebuit. Hy kies met opset die deftige spelling Zondagh as satire op die gedrae klanke en argaïese spelwyse van Hooghollands, in teenstelling tot die vereenvoudigde, kort en bondige Afrikaans:
Piet Zondagh en sy dogter Griet Zondagh
Leer Hooghollands stadagh maar grondagh;
Hulle sê, vir ’n oumens,
En nog meer vir ’n vroumens,
Is Afrikaans glad te kort en te bondagh.
In die Afrikaanse letterkunde kom Nederlandsklinkende Khoi-name dikwels voor. Die heel vroegste voorbeeld waarvan ek weet, is F.W. Reitz se “Klaas Geswind en sy perd” wat in 1870 in Het Volksblad gepubliseer is. Dié komiese gedig is ’n verwerking van Robert Burns se “Tam O’ Shanter” (1791). Reitz verplaas die gebeure na die sendingdorpie Suurbraak naby Swellendam in Suid-Afrika.
Huwelik
Die naam Geswind kom nie in De Graaff en Grootscholten se boek voor nie, maar wel Tities. Koos Tities is Klaas se drinkebroer. Van dié twee vriende sê Klaas se radelose vrou vir hom:
En loop Koos Tities met jou mee,
Dan gaan dit woes met julle twee.
Titus was oorspronklik ’n slawenaam en kom reeds sedert 1658 in Suid-Afrika voor. Op die naamlys van slawe verskyn dit tot 1725 een-en-tagtig keer. In die slaweregisters van Suriname kom die naam Titus ook dikwels voor.
Titus is ’n Romeinse voornaam en is ook bekend uit die Nuwe Testament. Paulus het ’n brief aan Titus geskryf. Hy raai Titus onder meer aan om mense as ouderlinge in die gemeentes van Kreta te kies wat nie drink nie (Titus 1:7). Klaas Geswind en Koos Tities sou dus nie kwalifiseer nie!
Die vroegste vermelding van die naam as inheemse Khoi-familienaam kom uit 1713 toe die huwelik van Johanna Titus met Harmen Gothier aangeteken is.
Bart de Graaff en Miriam Grootscholten het met Windvogel en Cupido ’n prikkelende aanset gelewer tot verdere navorsing op die gebied van die Khoisan-naamkunde en inheemse genealogie. Die boek bevat pragtige portretfoto’s deur Geert Snoeijer van hedendaagse Khoi-afstammelinge.
Dit stuk verscheen eerder in Die Burger
Miriam Grootscholten en Bart de Graaff. Windvogel en Cupido: Die herkoms en betekenis van Nederlandsklinkende Khoisan-vanne in Afrikaans. Turksvy, 2025. Vertaald door Daniel Hugo. Bestelinformatie bij de uitgever
Oorspronkelijk: Miriam Grootscholten en Bart de Graaff. Windvogel en Cupido: herkomst en betekenis van Nederlands klinkende Khoisan namen in Zuid-Afrika. ASLC, 2025. Bestelinformatie bij de uitgever
Laat een reactie achter