• Door naar de hoofd inhoud
  • Skip to secondary menu
  • Spring naar de eerste sidebar
  • Spring naar de voettekst
Neerlandistiek. Online tijdschrift voor taal- en letterkunde

Neerlandistiek

Online tijdschrift voor taal- en letterkundig onderzoek

  • Over Neerlandistiek
  • Contact
  • Homepage
  • Categorie
    • Neerlandistiek voor de klas
    • Vertelcultuur
    • Naamkunde
  • E-books
  • Neerlandistische weblogs
  • Archief
    • 10 jaar taalcanon
    • 100 jaar Willem Frederik Hermans
    • Chris van Geel
  • Jong Neerlandistiek
  • Frisistyk
  • Mondiaal

Die maan gooi uit

1 mei 2026 door Jana Luther Reageer

Karoo-sonsondergang met windpomp. Foto: Oggmus, Wikimedia Commons (CC BY-SA 3.0).

’n Rooi lug in die aand, wanneer die son ondergaan … Dit is soms ’n teken dat dit die volgende dag gaan reën. So het die oumense geglo.

Vir mense wat na aan die natuur leef, dui verskeie dinge aan dat reën naby is. Natuurkinders weet watter winde reën bring. Die stand van die sekelmaan, byvoorbeeld, skuins met die onderste punt effens ingetrek, is volgens volksgeloof ’n aanduiding dat dit binnekort gaan reën. Die maan gooi uit, word gesê. As die reënpaddas kwaak, as die donderpadda – blaasop, janblom – sy geluid laat hoor, is onweer aan die kom. Vir baie is die kraanvoël ’n simbool van naderende reën. Party mense glo wanneer die petira, die hamerkop, roep, of saam met ander van sy soort in groepe swerm, daar groot reën aan die kom is.

Weerprofete oral hou vol: Die gedrag van vlieënde rysmiere dui vir ’n kennersoog aan of dit gaan reën, of nie. In Bonnievale, word gesê, gaan dit reën as die oudak, die dolfie of fytjie-abbakaros, baie dons het. ’n Verwysing na die fyn, skimmelagtige afskeiding op die rug van dié skaars, askleurige kewer, familie van die toktokkie. As die donderbesies, klein, vlieënde hardedopkewertjies – ook dondervliegies, of onweersbesies genoem – saans rondvlieg, is reën in Philippolis naby.

In Namakwaland klap die misroepertjie loodregop in die lug sy vlerkies. As dié klein voëltjie, ook klappertjie genoem, teen vuilskemer nog altyd prrrrrr-fuuuuuut! prrrrrr-fuuuuuut! kan jy seker wees dit kom reën, so word daar gesê. Ook as die grondgeitjie, die (k)on-(k)on, in Namakwaland kliek, kliek-kliek, skryf F.A. Venter.

Gerhard Verdoorn in 2006 in Die Burger: “Ver in my Karoowêreld is die geloof as die rooibaadjiesprinkaan in die brosdoringbos inklim en met sy kop noorde toe sit, is dit nog vier dae voor die reën val.”

Stapelwolke (cumulus), veerwolke (cirrus), laagwolke (stratus), reënwolke (nimbus), dié word gelees soos ’n boek. Pak wolke op die kruin van Stellenboschberg saam, word gesê “Jakob sit sy hoed op”. As Jakob hoed opsit, kom dit reën. Dan panie dit in die Wes-Kaap. In die volksmond het ’n bank stapelwolke by die Griekwas ’n boseil geword. By die Griekwas is ’n boseil in die weste ’n seker teken van komende reën. ’n Reënboom, of reënbos, ’n massa wolke wat saam soos ’n boom met takke lyk, is volgens oorlewering ook ’n aanduiding van reën aan die kom. Nes ’n kêrelwolk ook, ’n digte, regopstaande wolk. “Nou gaan dit baie reën, kyk net die kêrelwolke daar!” het die WAT in die Noord-Vrystaat opgeteken. In ’n kêrelwolk is daar drif.

Maar ’n mannetjieswolk … Nou ja, ’n mannetjieswolk vertoon belowend, maar hy stel teleur.

In die Noordelike Halfrond het bewoners van die ysgebiede, word daar dikwels gespog, meer as 200 verskillende woorde vir sneeu. Dik sneeu, dun sneeu, ligte sneeu, swaar sneeu. Sneeu in die winter, in die lente. Soggens. Saans … Hoeveel soorte reën is daar? wonder ek, knus op my toe balkon in die stadskom, terwyl die langverwagte een van die berg af opstaan, haar miskombers oor die Moederstad uitskud.

“Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete, / en hulle kruip nader en sing saggies: / “Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

Dit druil. Dreig …

“Sy trap af van die hoogte; / sy sprei die vaal karos met al twee arms uit; / die asem van die wind raak weg” (Eugène Marais, uit “Dans van die reën”).

Dan druppel dit; begin die groot dak lek. Aanhoudend of in sarsies. Lig, of deurdringend. Drywend of loodreg na benede. Gietend, gutsend, kletsend, kletterend. Pietsend, plassend, swiepend, sjorrend. Verblindend in vlae. Vrylik. Onstuimig. Triestig of emmersgewys. Oorverdowend en swaar. Oorvloedig, as die hemelsluise oopgaan.

Die dorre aarde drink die reën. Die dorstige aarde slurp die water gulsig in. Die blare ritsel, ruisel. Riviere kom af.

As dit bakstene reën, of klippe losreën, reën dit geweldig hard. Bokhaelreën se druppeltjies verys. In die Kaap val ’n bolandsreën. ’n Aanhoudende, sagte reën. Nie ’n spoelreën nie, maar ’n intrekreën wat die grond deurdrenk. Donderreën, soos in die Karoo, kom met blitse en donder en gromwolke saam. ’n Doutjie, ook Skotse doutjie genoem, ’n kibbie of ghibbie (uit Khoi), is ’n sagte, ligte reëntjie. ’n Fyn motreën, maar nie heeltemal so fyn soos misreën nie. As dit ghibbie, reën dit saggies. ’n Misreën klam net so effentjies aan.

’n Enkele los bui, by Vanwyksvlei, is ’n komloertjie. Elders ’n natmakertjie. As sonskyn en reën of koue mekaar afwissel, speel die weer konsertina. Konsertinareën val in kort buie terwyl die lug tussendeur oop- en toetrek. As die reën só vroeg val dat die oes misluk, is dit ’n hongerreën.

Plasreën plons. ’n Baie swaar bui is ’n kieriebui. Nog swaarder buie, dambrekerbuie.

In die Kaap, in die ou dae, is reën omstreeks 1 Desember apprentjiesreën genoem. Volgens die WAT omdat dit op 1 Desember 1838, die dag toe die slawe vry geword het, buite die gewone reënseisoen swaar gereën het. Van 1834 tot 1838 was die slawe nog nie werklik vry nie, maar nog ingeboek as apprentices.

Soms reën dit nie juis nie. Dit sabbie of sibbie net. Sifreën aan die ander kant, val aanhoudend. Soms kiesa of kwietsja dit dae aaneen. In die oostelike dele van die land staan dié sagte somerreën tussen November en Maart, wat soms tot drie weke (drie maal agt dae) neersypel, ook as ’n drie-agtdaereën bekend. Die deurdringende landsreën wat, wanneer die geelperskes ryp word, tot “veertien dae in die boorde val”, soos Anton Goosen sing, is ’n geelperskereën.

’n Droëperskereën, daarenteen, wanneer die perskes gedroog word, is onwelkom, want dit rig skade aan.

Jaloersbuie val nie eweredig nie maar sak plek-plek in strepe uit, sodat boere wat niks kry nie, jaloers is op hulle bure wat wel van dié jaloersweer kry.

As dit reën en die son skyn tegelyk, trou die jakkalse; trou jakkals met wolf, met bobbejaan se vrou, met boer se dogter. ’n Ligte buitjie terwyl die son skyn, is ’n jakkalstroureëntjie, ’n jakkalstroutjie, jakkalsdoutjie, of jakkalsbruilof. En Uilspieël trou ook. Gure weer is katte-en-hondeweer. Hondeweer is onplesierig, koud, winderig, onstuimig. Nat weer is eendeweer.

Joppelweer, jonkmansweer, kaggelweer, kapokweer, landsweer, misweer, mooiweer, natweer, newelweer, oesweer, pannekoekweer, stormweer, sneeuweer …

Hoeveel soorte weer? Hoeveel soorte reën?

Blaai deur die WAT en tel self.

Jana Luther. En nog WAT: Uit die woordeskat van Afrikaans. Bureau van die WAT, 2026. Bestelinformatie

Delen:

  • Afdrukken (Opent in een nieuw venster) Print
  • E-mail een link naar een vriend (Opent in een nieuw venster) E-mail
  • Share op Facebook (Opent in een nieuw venster) Facebook
  • Delen op WhatsApp (Opent in een nieuw venster) WhatsApp
  • Delen op Telegram (Opent in een nieuw venster) Telegram
  • Delen op LinkedIn (Opent in een nieuw venster) LinkedIn

Vind ik leuk:

Vind-ik-leuk Aan het laden...

Gerelateerd

Categorie: Artikel Tags: Afrikaans, taalkunde, woordenschat

Lees Interacties

Laat een reactie achterReactie annuleren

Deze site gebruikt Akismet om spam te verminderen. Bekijk hoe je reactie gegevens worden verwerkt.

Primaire Sidebar

Gedicht van de dag

Hans Faverey • Denk iets dat je goed kent

Herhaal het: zij haar haar
kamt. Doe er een spiegel
bij. Maak het vertrouwder

➔ Lees meer

Bekijk alle gedichten

  • Facebook
  • YouTube

Vlaggetjes

De arbeidersklasse danst een groote reidans
aan de oceaan der wereld

Bron: Herman Gorter

➔ Bekijk hier alle citaten

Agenda

7-8 mei 2026: Germanic Sandwich 10

7-8 mei 2026: Germanic Sandwich 10

29 april 2026

➔ Lees meer
11 mei 2026: Promotie Bartie Thijs

11 mei 2026: Promotie Bartie Thijs

28 april 2026

➔ Lees meer
8 mei 2026: Symposium Onsterfelijke dood

8 mei 2026: Symposium Onsterfelijke dood

26 april 2026

➔ Lees meer
➔ Bekijk alle agendapunten

Neerlandici vandaag

geboortedag
1940 Zdenka Hrnčířová
1964 Erik Brus
sterfdag
2013 Piet Paardekooper
➔ Neerlandicikalender

Media

Walewein: Ridder aan het hof van koning Arthur

Walewein: Ridder aan het hof van koning Arthur

1 mei 2026 Door Redactie Neerlandistiek Reageer

➔ Lees meer
In gesprek met auteur Anne Eekhout

In gesprek met auteur Anne Eekhout

1 mei 2026 Door Redactie Neerlandistiek Reageer

➔ Lees meer
Katharina de With, Christina Leonora de Neufville en Belle van Zuylen

Katharina de With, Christina Leonora de Neufville en Belle van Zuylen

30 april 2026 Door Redactie Neerlandistiek Reageer

➔ Lees meer
➔ Bekijk alle video’s en podcasts

Footer

Elektronisch tijdschrift voor de Nederlandse taal en cultuur sinds 1992.

ISSN 0929-6514
Bijdragen zijn welkom op
redactie@neerlandistiek.nl
  • Homepage
  • E-books
  • Neerlandistische weblogs
  • Over Neerlandistiek
  • De archieven
  • Gebruiksvoorwaarden
  • Privacy­verklaring
  • Contact
  • Facebook
  • YouTube

Inschrijven voor de Dagpost

Controleer je inbox of spammap om je abonnement te bevestigen.

Copyright © 2026 · Magazine Pro on Genesis Framework · WordPress · Log in

  • Homepage
  • Categorie
    • Voor de klas
    • Vertelcultuur
    • Naamkunde
  • Archief
    • 10 jaar taalcanon
    • 100 jaar Willem Frederik Hermans
  • E-books
  • Neerlandistische weblogs
  • Jong Neerlandistiek
  • Frisistyk
  • Mondiaal Neerlandistiek
  • Over Neerlandistiek
  • Contact
 

Reacties laden....
 

    %d