In die hersiening van βn gevestigde woordeboek, een wat al βn hele paar dekades oud is, kry die leksikograaf dikwels nie net met konkrete hersieningskwessies te doen nie, maar ook nie-konkrete. Konkrete hersieningskwessies het byvoorbeeld te doen met woorde en uitdrukkings wat verouderd geraak het en met betekenisverskuiwing, op grond van die taalaanvoeling van een of meer leksikograwe of korpusvoorbeelde en -statistieke. Nie-konkrete hersieningskwessies is moeiliker om te bepaal en het veral te doen met die gees van die tyd waarin βn woordeboek saamgestel of daadwerklik hersien is en die lewensuitkyk van βn leksikograaf. So βn tydsgees of lewensuitkyk kan βn invloed hΓͺ op die manier waarop woorde en uitdrukkings vertolk word, en die voorbeeldmateriaal wat gekies word. Waar vertolkings en voorbeeldmateriaal te nou aan βn bepaalde tydperk verbind is, of die hebbelikhede van βn bepaalde leksikograaf weerspieΓ«l, word die rakleeftyd van vertolkings en voorbeeldmateriaal beperk, en die volgende geslag woordeboekgebruikers vind al hoe minder aanklank daarby.
βn Tydsgebonde tydsgees of lewensuitkyk wat grotendeels al uit die meeste vooraanstaande woordeboeke geweer is, is woorde, vertolkings en voorbeeldmateriaal wat as rassisties beskou kan word. Insgelyks het daar met verloop van tyd groter gevoeligheid by woordeboekmakers ontwikkel vir byvoorbeeld nie-Westerse gelowe en kulture, en vir minderheidsgroepe soos diΓ© wat aan geestesongesteldhede ly. In Suid-Afrika was die verandering in tydsgees uiteraard redelik skerp aangetoon met die koms van die nuwe demokratiese bestel in die middel van die 1990βs. Daarmee saam het die samelewing verander van een waarin regte eksklusief verskans is en βn geselekteerde kultuur bevorder is, na een waarin algemene menseregte grondwetlik gewaarborg is, en waarin die kulture van die land inklusiewer bevorder is.
Vraag is egter in watter mate hierdie nuwe inklusiwiteit in die voorstaande Afrikaanse verklarende woordeboeke en vertalende woordeboeke met Engels en Afrikaans weerspieΓ«l word. Gee hierdie woordeboeke in hul vertolkings en voorbeeldmateriaal te kenne die meerderheid Afrikaanssprekendes is verstedelik, of is diΓ© woordeboeke nog vasgevang in die agrariese idioom van ouds? Gee hierdie woordeboeke erkenning aan βn grondwet wat lyfstraf verban, of is hulle nog gevul met idiome en uitdrukkings wat fisiese aanranding as tema het? Hoewel anekdotiese getuienis daarop dui hierdie soort idiomatiek vier nog slegs in sportjoernalistiek bot, is die vernuwing van die idiomatiek in Afrikaanse woordeboeke al dan nie βn terrein ryp vir navorsing.
βn Verdere fenomeen wat ek onlangs opgemerk het, is hoe diereregte en die omgewing in die vertolkings en voorbeeldmateriaal van Afrikaanse woordeboeke behandel word. βn Paar inskrywings uit die vyfde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal het my opgeval.
olifant s.nw. groot, plantetende soogdier van Afrika en AsiΓ« met βn lang, buigsame slurp, waaiervormige ore en waardevolle ivoortande.
potvis s.nw. baie groot tandwalvis met groot, keΓ«lvormige tande net in die onderkaak, geen balein, en wat 18 m lank word en olie van die hoogste gehalte lewer.
skeurtandhaai s.nw. soort mensvreterhaai.
skilpadsop s.nw. sop gekook van die seeskilpad.
Wat by drie van hierdie inskrywings uitstaan, is hoe die ekonomiese waarde van hierdie diere deel uitmaak van die omskrywings van hierdie leksikale items. Die olifant word uitgeken aan sy waardevolle ivoortande, die potvis aan sy hoΓ«gehalteolie, en die seeskilpad aan die sop wat daar van hom gekook kan word. Hierdie diere word dus beskou as prooi vir jagters, kommoditeite wat ekonomies uitgebuit kan word. In die lig van die internasionale konvensies wat hierdie diere beskerm, is hierdie βn volslae verouderde benadering. Om die skeurtandhaai as βn mensvreterhaai te beskryf, is ook tekenend van βn uitgediende siening dat alle groot haaie bloeddorstige monsters is met βn voorliefde vir mensvleis. Geen aanvalle deur skeurtandhaaie op mense is geboekstaaf nie; trouens, diΓ© haaie is bekend vir hul rustigheid, βn karaktertrek wat hulle βn populΓͺre keuse maak om in akwaria aangehou te word.
Dat sΓ³ βn onverskillige houding teenoor natuurlewe nog in die 1960βs, toe die HAT oorspronklik saamgestel is, aanvaarbaar was, is dalk nog verstaanbaar, maar dat diΓ© houding tot in die 2005-uitgawe van die HAT oorleef het, is nogal skreiend.
Laat een reactie achter