Het stukje hieronder is geschreven door Aletta Simpson uit Stellenbosch, Zuid-Afrika. Omdat het in het Afrikaans is geschreven, is bij sommige woorden ervoor gekozen om de Nederlandse vertaling in haakjes erachter te zetten omwille van begrijpelijkheid.
Daar is ’n E. B. White aanhaling wat op die volgende neerkom: om humor te analiseer is soos om ʼn padda (kikker) te dissekteer. Dis grillerig (goor), min mense stel daarin belang en die padda vrek (dood gaan). Met dit gesê (dit gezegd hebbende) gaan ek steeds ʼn poging aanwend om Al Galidi se humoristiese skryfwerk so ʼn bietjie te dissekteer.
Al Galidi wil hê sy lesers moet trane in hulle oë (ogen) hê, maar “van lag eerder as van huil”. In ʼn onderhoud met Neeta Gupta (die onderhoud is beskikbaar op YouTube) vertel Rodaan Al Galidi dat hy met die skryf van sy roman Hoe ik talent voor het leven kreeg (2016) bewus was daarvan dat die kwessies waaroor hy skryf maklik sy leser kan ontstel (ontstemmen) en, ek haal aan, baie (heel) “dramaties” kan wees. Hy vertel dat hy besluit het om elke dramatiese vreugde in vyf sinne sal vertel, maar elke “stupid” vreugde in tien bladsye. Die rede hiervoor is dat hy, volgens hom, sy leser binne die eerste paar bladsye van sy verhaal sal verloor indien hy sy skryfwerk nie so aanpak nie. Al Galidi verduidelik dus dat humoristiese elemente in ʼn teks ʼn leser kan vermaak. Maar dit kan ook die leser oorreed om aan te hou lees oor ʼn onderwerp wat miskien nie so maklik verteerbaar is nie.
Die drie humorteorieë
Die manier waarop Al Galidi humoristiese elemente toepas in sy werk en wat die rol is wat hierdie elemente in die algehele boodskap van sy werk speel, is veral interessant. In filosofie en sielkunde is daar drie hoofteorieë oor hoekom iets snaaks (grappig) is. Die drie teorieë is die verligtingsteorie, die meerderwaardigheidsteorie en die onversoenbaarheidsteorie. Miskien gee hierdie teorieë tog vir ons ʼn sleutel om Al Galidi se paddas te kan dissekteer.
Die verligtingsteorie: Wat het die “UWV”, ʼn “tbc-test” en KFC in gemeen?
Die eerste teorie is die verligtingsteorie. Die verligtingsteorie is gemunt deur ʼn ou bekende, Sigmund Freud. Volgens hierdie teorie lag ʼn mens omdat dit vir jou verligting bring. Psigoanalise en die teorie rakende die onderbewussyn vorm die basis van hierdie teorie. Sandra Swart, ʼn professor by Stellenbosch Universiteit, verduidelik dat vir Freud is ʼn grap nie net ʼn grap nie. Volgens Freud is die mens soos ʼn drukpot (ʼn “pressure cooker”) vol angstige energie wat verband hou met seks, geweld en liggaamsfunksies. Humor of lag is dan ʼn soort veiligheidsklep (“safety valve”) om van hierdie energie te kan ontslae raak. Humor laat ʼn mens toe om oor taboes te praat of skryf. Freud verduidelik dat humor die geleentheid (mogelijkheid) skep vir katarsis en ʼn “mental release from suffering”.
In Al Galidi se Holland (2020) vertel die spreker, ʼn asielsoeker in Nederland, dat hy nie ʼn “uitkering” wil hê nie. Hy wil nie ʼn woning in Nederland hê nie, maar eerder ʼn reisdokument. Vir hierdie reisdokument moet hy na die “gemeentenhuis” gaan. Daar word hy verwys na die “UWV”, maar hy kan nie die akroniem onthou nie: “Ik moest naar een instantie met drie letters: BHB of UVW of VSB of IBN.” (14). Die spreker verduidelik dat dit moeilik is vir asielsoekers om hierdie verskillende amptelike afkortings te onthou. Die beaurokratiese prosesse is moeilik en frustrerend vir asielsoekers. Die volgende staaltjie bring dan komiese verligting:
Ik herinner me nog de Libische Gamies. Die moest ooit naar de GGD voor een tbc-test. Twee afkortingen dus. Hij wilde de mensen onderweg vragen waar hij heen moest maar hij kon de afkortingen niet onthouden. Hij vroeg zelfs een keer: ‘Waar is de tbc?’ Dus bevond hij zich aan het eind van de dag ineens bij de KFC. (14)
Die meerderwaardigheidsteorie: ʼn Dominee word mislei
Die tweede teorie is die meerderwaardigheidsteorie. Dit is humor wat gebaseer is op aggressie, woede, superioriteit of vyandigheid. Aanhangers van hierdie meerderwaardigheidsteorie werk met die aanname dat mense lag vir ander as hulle die ander as minderwaardig beskou. Wanneer iemand besef dat sy meerderwaardig is teenoor iemand anders, kan dit haar laat lag. Hierdie soort humor het dikwels te make met die gekskeer (grapte?) met iemand.
In Hoe ik het talent voor het leven kreeg (2016) vertel Al Galidi hoe sommige asielsoekers hulle verblyfsvergunnings bekom het. Een van die asielsoekers, Hoessein, kry sy verblyfsvergunning met behulp van ʼn dominee wat vir hom ʼn brief skryf waarin daar staan dat Hoessein tot bekering gekom het (320). Kariem, die outobiografiese hoofkarakter van die roman, stel ondersoek in na hoe Hoessein sy verblyfsvergunning gekry het en Al Galidi dryf dan die spot met die dominee wat nie insien dat die asielsoeker hom moontlik (mogelijk) misbruik het vir ʼn verblyfsvergunning nie. Al Galidi se gebruik van humor is in hierdie geval subversief. Hy verset hom teen die asielsisteem in Nederland (en die dominee) deur middel van sy gebruik van humor en dit maak van hom ʼn volwaardige subjek.
Die onversoenbaarheidstoerie: ʼn Digter lê ʼn eier
Die laaste teorie is die onversoenbaarheidsteorie. Die onversoenbaarheidsteorie verwys na humor wat geskep word deur twee onversoenbare konsepte saam te voeg. Dink aan ʼn olifant met ʼn klein hoedjie op. Die meerderwaardigheidsteorie se argument is dat die gevoel van meerderwaardigheid iemand laat lag, terwyl die onversoenbaarheidsteorie sê dat teenstrydighede snaaks is. In die konteks van die teorie word teenstrydigheid gedefinieer as ʼn tekort aan harmonie of verenigbaarheid. Arthur Schopenhauer verduidelik al in 1866 dat ʼn mens lag wanneer sy skielik (ineens) bewus word van ʼn onversoenbaarheid tussen ʼn konsep en ʼn werklike objek.
In Koelkastlicht (2016) is daar byvoorbeeld ʼn gedig met die titel: “Het wonderei van Rodaan Al Galidi”:
Normaal gesproken
leg ik mijn gedachten op papier,
maar twee weken geleden
Legde ik een ei. […] (84)
Die humor in die gedig lê in die onversoenbaarheid van ʼn mens wat ʼn eier lê. Die spreker vertel hoe hy op hierdie eier sit en dit uitbroei in sy kamer. Eindelik, beantwoord hy in die slotreëls die vraag: “Wat komt eruit?” met “Hopelijk geen asielzoeker.” Met die humoristiese titel maak hy dit duidelik dat die gedig komies is, maar dit lewer ook sosiale kommentaar. Sosiale kommentaar en humor is dus nie onderling uitsluitend in Al Galidi se werk nie. Die gedig bevat ʼn naskrif (epiloog) waarin Al Galidi kommentaar lewer oor die klassifisering “asielsoeker”, hoekom iemand ʼn asielsoeker word en hoe dit in kontras staan met die woord “mens”. Al Galidi verduidelik dat “asielsoeker” die naam is wat gegee word aan die verloorders in ʼn oorlog:
PS: Verander over tien jaar het woord ‘asielzoeker’ in ‘mens’. Verander twintig jaar daarna het woord ‘mens’ in ‘asielzoeker’.
Et cetere, et cetera, tot de laatste oorlog is gevoerd, ergens in het derde millenium. (84)
Die drie teorieë help ons om die verskillende instansies van “stupid” vreugde in Al Galidi se werk te identifiseer. Dit verduidelik nie die boodskap wat gepaard gaan met die humor nie, maar daar is ʼn duidelike tema wat sigbaar is: Die asielsoeker en hoe moeilik dit is vir die asielsoeker om aan te pas in ʼn nuwe land. Dit wil blyk dat humor een van Al Galidi se gekose kommunikasiemiddels is om hierdie boodskap mee oor te dra. Eindelik is die padda miskien vrek, maar dit is slegs die begin van die ondersoek na die rykdom van humor en hoe dit toegepas word in Al Galidi en ander skrywers se werk om mee sosiale kommentaar te lewer.
Aletta Simpson studeert Afrikaans en als bijvak Nederlands aan de Universiteit van Stellenbosch in Zuid-Afrika.
Laat een reactie achter